12
1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun
baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy
onwel is, sal sy onrein wees.
3 En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word.
4 Dan moet sy drie en dertig dae in die reinigingsbloed bly. Aan niks wat heilig
is, moet sy raak nie en in die Heiligdom mag sy nie kom nie totdat die dae van
haar reiniging verby is.
5 Maar as sy ‘n dogter baar, sal sy twee weke onrein wees soos by haar
maandelikse onreinheid. Dan moet sy ses en sestig dae in die reinigingsbloed bly.
6 En as die dae van haar reiniging in die geval van ‘n seun of ‘n dogter verby
is, moet sy ‘n jaaroud lam as brandoffer en ‘n jong duif of tortelduif as
sondoffer bring na die ingang van die Tent van Samekoms, na die priester toe;
7 dié moet dit offer voor die aangesig van YAHUVEH en vir haar versoening doen;
dan sal sy rein wees van haar bloedvloeiing. Dit is die wet van haar wat baar,
in die geval van ‘n seun of ‘n dogter.
8 Maar as sy ‘n lam nie kan bekostig nie, moet sy twee tortelduiwe of twee jong
duiwe neem, een as brandoffer en een as sondoffer; en die priester moet vir haar
versoening doen; dan sal sy rein wees.
*~ Levitikus Hoofstuk 13 ~*
1 Verder het YAHUVEH met Moses en Aäron gespreek en gesê:
2 As ‘n mens in die vel van sy vlees ‘n swelsel of uitslag of ligte vlek het, en
dit in die vel van sy vlees ‘n plaag van melaatsheid word, moet hy na die
priester Aäron of na een van sy seuns, die priesters, gebring word;
3 en die priester moet na die aangetaste plek in die vel van die vlees kyk. Het
die hare op die plek wit geword, en lyk dit of die plek dieper is as die vel van
sy vlees, dan is dit die plaag van melaatsheid. As die priester dit sien, moet
hy hom onrein verklaar.
4 Maar as dit ‘n wit vlek in die vel van sy vlees is en dit nie dieper lyk as
die vel nie, en die hare daarvan nie wit geword het nie, moet die priester die
aangetaste persoon sewe dae lank opsluit.
5 As die priester hom op die sewende dag bekyk en sien dat die aangetaste plek,
volgens hy kan sien, dieselfde gebly het, die plek nie in die vel versprei het
nie, dan moet die priester hom nog ‘n keer sewe dae lank opsluit.
6 Bekyk die priester hom dan op die sewende dag nog ‘n keer en sien hy dat die
aangetaste plek dof van kleur geword en die plek in die vel nie versprei het nie,
dan moet die priester hom rein verklaar. Dit is ‘n uitslag; en hy moet sy klere
was, dan is hy rein.
7 Maar as die uitslag werklik in die vel versprei nadat hy hom aan die priester
vertoon het om rein te word, moet hy hom nog ‘n keer aan die priester vertoon.
8 En sien die priester dat die uitslag in die vel versprei het, dan moet die
priester hom onrein verklaar. Dit is melaatsheid.
9 As die plaag van melaatsheid aan ‘n mens is, moet hy na die priester gebring
word.
10 En as die priester sien dat daar ‘n wit swelsel in die vel is wat die hare
wit gemaak het, terwyl daar wilde vlees in die swelsel groei,
11 dan is dit ‘n verouderde melaatsheid in die vel van sy vlees, en die priester
moet hom onrein verklaar. Hy moet hom nie opsluit nie, want hy is onrein.
12 Maar as die melaatsheid so geweldig in die vel uitbreek, dat die melaatsheid
die hele vel van die aangetaste persoon van sy hoof tot sy voete oordek, so ver
as wat die oë van die priester kan sien;
13 en sien die priester dat die melaatsheid sy hele vlees oordek het, dan moet
hy die aangetaste persoon rein verklaar: hy het heeltemal wit geword, hy is
rein.
14 Maar so gou as wilde vlees aan hom gesien word, sal hy onrein wees;
15 en as die priester die wilde vlees sien, moet hy hom onrein verklaar. Die
wilde vlees is onrein, dit is melaatsheid.
16 Maar as die wilde vlees weer weggaan en hy wit word, moet hy na die priester
kom.
17 As die priester hom dan bekyk en sien dat die aangetaste plek wit geword het,
dan moet die priester die aangetaste persoon rein verklaar; hy is rein.
18 Maar as daar in die vlees aan hom, naamlik in die vel, ‘n sweer is en gesond
word,
19 maar in die plek van die sweer ‘n wit swelsel of ‘n rooierige wit vlek kom,
moet hy hom aan die priester vertoon.
20 As die priester sien dat dit dieper lyk as die vel, en die hare daarvan wit
geword het, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is ‘n plaag van
melaatsheid, dit het in die sweer uitgebreek.
21 Maar as die priester dit bekyk, en daar geen wit hare op is nie, en dit nie
dieper as die vel is nie en dof van kleur geword het, dan moet die priester hom
sewe dae lank opsluit.
22 En as dit werklik in die vel versprei, moet die priester hom onrein verklaar;
dit is ‘n plaag van melaatsheid.
23 Maar as die ligte vlek bly waar dit is, nie versprei het nie, is dit die
litteken van die sweer, en die priester moet hom rein verklaar.
24 Of as in die vlees, in sy vel ‘n brandplek van vuur is en die nuwe vlees van
die brandplek ‘n rooierige wit of wit vlek is;
25 en die priester dit bekyk en sien dat die hare op die ligte vlek wit geword
het en dit dieper lyk as die vel, dan is dit melaatsheid; in die brandplek het
dit uitgebreek. Daarom moet die priester hom onrein verklaar; dit is die plaag
van melaatsheid.
26 Maar as die priester dit bekyk en sien dat op die ligte vlek geen wit hare is
nie, en dit nie dieper as die vel is nie en dof van kleur geword het, dan moet
die priester hom sewe dae lank opsluit.
27 Dan moet die priester op die sewende dag hom bekyk. As dit werklik in die vel
versprei het, moet die priester hom onrein verklaar; dit is die plaag van
melaatsheid.
28 Maar as die ligte vlek bly waar dit is, nie in die vel versprei het nie en
dof van kleur geword het, dan is dit die swelsel van die brandplek. Daarom moet
die priester hom rein verklaar, want dit is die litteken van die brandplek.
29 Verder, as daar by ‘n man of vrou ‘n aangetaste plek aan die hoof of in die
baard is,
30 en die priester die plek bekyk en sien dat dit dieper lyk as die vel, en daar
geel dun hare op is, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is skurfte,
dit is melaatsheid van die hoof of van die baard.
31 Maar as die priester die plaag van skurfte bekyk en sien dat dit nie dieper
as die vel lyk nie, en daar geen swart hare op is nie, dan moet die priester die
deur skurfte aangetaste persoon sewe dae lank opsluit.
32 Bekyk die priester dan op die sewende dag die aangetaste plek en sien hy dat
die skurfte nie versprei het nie, en daar geen geel hare op is nie, en die
skurfte nie dieper lyk as die vel nie,
33 dan moet die persoon hom skeer, maar die skurwe plek moet hy nie skeer nie,
en die priester moet die skurwe persoon nog ‘n keer sewe dae lank opsluit.
34 Bekyk die priester dan die skurfte op die sewende dag en sien hy dat die
skurfte nie in die vel versprei het nie en dit nie dieper as die vel lyk nie,
dan moet die priester hom rein verklaar. En hy moet sy klere was en sal rein
wees.
35 Maar as die skurfte werklik in die vel versprei nadat hy rein verklaar is,
36 en die priester dit bekyk en sien dat die skurfte in die vel versprei het,
dan hoef die priester nie na die geel hare te soek nie; hy is onrein.
37 Maar as die skurfte, volgens hy kan sien, dieselfde gebly en swart hare
daarop gegroei het, dan is die skurfte gesond. Hy is rein, en die priester moet
hom rein verklaar.
38 Verder, as ‘n man of vrou in die vel van hulle vlees ligte vlekke, wit vlekke
het,
39 en die priester sien dat daar dowwe wit vlekke in die vel van hulle vlees is,
dan is dit gewone uitslag wat in die vel uitgebreek het; hy is rein.
40 En as ‘n man se hoof kaal word, is hy ‘n kaalkop; hy is rein.
41 En as sy hoof aan die voorkant kaal word, het hy ‘n bles; hy is rein.
42 Maar as daar in die kaalte of in die bles ‘n rooierige wit plek is, dan is
dit melaatsheid wat uitbreek in die kaalte of in die bles.
43 As die priester dit bekyk en sien dat die swelsel van die aangetaste plek in
die kaalte of in die bles rooierig wit is, wat lyk soos die melaatsheid van die
vel van die vlees,
44 dan is hy ‘n melaatse, hy is onrein; die priester moet hom sekerlik onrein
verklaar; op sy hoof het hy die plaag.
45 Verder moet in die klere van die melaatse op wie die plaag is, skeure wees,
en sy hare moet los hang; ook moet hy sy baard bedek en roep: Onrein, onrein!
46 Al die tyd dat die plaag op hom is, sal hy onrein wees. Onrein is hy; alleen
moet hy woon; buitekant die laer moet sy woning wees.
47 Verder, as daar in ‘n kledingstuk die plaag van melaatsheid is, in ‘n
kledingstuk van wol of linne;
48 of in die skeerdraad of die inslag van linne of wol, of in ‘n vel of enige
leerwerk;
49 en die aangetaste plek in die kledingstuk of in die vel of in die skeerdraad
of die inslag of in enige leervoorwerp liggroen of rooierig is, dan is dit ‘n
plaag van melaatsheid, en hulle moet die priester dit laat sien.
50 Die priester moet dan die aangetaste plek bekyk en die aangetaste voorwerp
sewe dae lank opsluit.
51 Dan moet hy op die sewende dag die plek bekyk; as die plaag versprei het in
die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in die vel, vir watter
diens die vel ook al verwerk is, dan is die plaag ‘n kwaadaardige melaatsheid;
so iets is onrein.
52 Daarom moet hy die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag van wol of van
linne of enige leervoorwerp waarin die aangetaste plek is, verbrand; want dit is
‘n kwaadaardige melaatsheid. Dit moet met vuur verbrand word.
53 Maar as die priester sien dat die plek in die kledingstuk of in die
skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp nie versprei het nie,
54 dan moet die priester beveel dat hulle die voorwerp was waar die plek aan is;
en hy moet dit nog ‘n keer sewe dae lank opsluit.
55 As die priester dan die aangetaste voorwerp bekyk, nadat dit gewas is, en
sien dat die plek nog net so lyk, hoewel die plek nie versprei het nie, dan is
dit onrein; jy moet dit met vuur verbrand. Dit is ‘n invreting aan die agter of
aan die voorkant.
56 Maar as die priester sien dat die plek, nadat dit gewas is, dof van kleur
geword het, dan moet hy dit uit die kledingstuk of uit die vel of uit die
skeerdraad of die inslag uitskeur.
57 Maar as dit nog in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in
enige leervoorwerp gesien word, dan is dit ‘n melaatsheid wat weer uitbreek; jy
moet die aangetaste voorwerp met vuur verbrand.
58 Maar die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag of enige leervoorwerp
wat jy was as die plek daaruit verdwyn het, moet dit nog ‘n keer gewas word, en
dit sal rein wees.
59 Dit is die wet oor die plaag van melaatsheid in ‘n kledingstuk van wol of
linne of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp, om dit rein
of onrein te verklaar.
*~ Levitikus Hoofstuk 14 ~*
1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Dit is die Wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die
priester gebring word,
3 en die priester moet buitekant die laer gaan. As die priester sien dat die
plaag van melaatsheid genees is, van die melaatse weg is,
4 moet die priester bevel gee dat hulle vir hom wat gereinig moet word, twee
lewendige rein voëls en sederhout en skarlakendraad en hisop moet bring.
5 Die priester moet ook bevel gee dat hulle die een voël in ‘n erdepot oor vars
water slag.
6 Die lewendige voël moet hy neem, sowel as die sederhout en die skarlakendraad
en die hisop, en dié en die lewendige voël insteek in die bloed van die voël wat
oor die vars water geslag is.
7 En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal
sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat
wegvlieg.
8 Dan moet hy wat gereinig moet word, sy klere was en al sy hare afskeer en ‘n
bad neem; dan sal hy rein wees. En daarna kan hy in die laer kom, maar hy moet
sewe dae lank buitekant sy tent bly.
9 En op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer, sy hoof en sy baard en sy
winkbroue al sy hare moet hy afskeer; en hy moet sy klere was en sy liggaam in
die water bad. Dan sal hy rein wees.
10 En op die agtste dag moet hy twee lammers sonder gebrek neem en een jaaroud
ooilam sonder gebrek en drie tiendes van ‘n efa fynmeel as spysoffer, met olie
gemeng, en een log olie.
11 En die priester wat die reiniging bewerk, moet die man wat gereinig word, en
dié gawes voor die aangesig van YAHUVEH by die ingang van die Tent van Samekoms
stel.
12 En die priester moet die een lam neem en dit saam met die log olie as
skuldoffer aanbring en dit as beweegoffer voor die aangesig van YAHUVEH beweeg.
13 Dan moet hy die lam slag op die plek waar hulle die sondoffer en die
brandoffer slag, in die heilige plek; want die skuldoffer net soos die sondoffer
behoort aan die priester; hoogheilig is dit.
14 En die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem, en die priester
moet dit stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim
van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet.
15 Die priester moet ook van die log olie neem en dit giet in die priester se
linkerhand.
16 Dan moet die priester sy regtervinger in die olie steek wat in sy linkerhand
is, en met sy vinger van die olie sewe maal sprinkel voor die aangesig van
YAHUVEH.
17 En van die orige olie wat in sy hand is, moet die priester stryk aan die
regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan
die groottoon van sy regtervoet, bo oor die bloed van die skuldoffer.
18 Wat dan oor is van die olie wat in die priester se hand is, moet hy stryk op
die hoof van hom wat gereinig word. So moet die priester dan vir hom versoening
doen voor die aangesig van YAHUVEH.
19 Die priester moet ook die sondoffer berei en vir hom wat gereinig word,
versoening doen weens sy onreinheid; en daarna moet hy die brandoffer slag.
20 En die priester moet die brandoffer en die spysoffer op die altaar offer. So
moet die priester dan vir hom versoening doen, en hy sal rein wees.
21 Maar as hy arm is en dit nie kan bekostig nie, moet hy een lam as skuldoffer
neem om beweeg te word, om vir hom versoening te doen; daarby een tiende van ‘n
efa fynmeel met olie gemeng as spysoffer, en ‘n log olie;
22 ook twee tortelduiwe of twee jong duiwe wat hy kan bekostig; en die een sal
wees ‘n sondoffer en die ander ‘n brandoffer.
23 Hy moet hulle dan op die agtste dag ná sy reiniging na die priester bring by
die ingang van die Tent van Samekoms voor die aangesig van YAHUVEH.
24 En die priester moet die skuldofferlam en die log olie neem; en die priester
moet dit as beweegoffer voor die aangesig van YAHUVEH beweeg.
25 Dan moet hy die skuldofferlam slag, en die priester moet van die bloed van
die skuldoffer neem en dit stryk aan die regteroorlel van hom wat gereinig word,
en aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet.
26 Ook moet die priester van die olie in die priester se linkerhand giet.
27 Dan moet die priester met sy regtervinger van die olie wat in sy linkerhand
is, sewe maal sprinkel voor die aangesig van YAHUVEH.
28 En die priester moet van die olie wat in sy hand is, stryk aan die
regteroorlel van hom wat gereinig word, en aan die duim van sy regterhand en aan
die groottoon van sy regtervoet, bo oor die plek van die bloed van die
skuldoffer.
29 Wat dan oor is van die olie wat in die priester se hand is, moet hy stryk op
die hoof van hom wat gereinig word, om versoening vir hom te doen voor die
aangesig van die HERE.
30 Dan moet hy een van die tortelduiwe berei of van die jong duiwe wat hy kan
bekostig
31 die een as sondoffer en die ander as brandoffer, saam met die spysoffer. So
moet die priester dan vir hom wat gereinig word, versoening doen voor die
aangesig van YAHUVEH.
32 Dit is die wet vir hom op wie die plaag van melaatsheid was, wat by sy
reiniging nie vermoënd is nie.
33 Verder het YAHUVEH met Moses en Aäron gespreek en gesê:
34 As julle in die land Kanaän inkom wat EK julle as besitting gee, en EK die
plaag van melaatsheid in ‘n huis van die land van julle besitting laat kom,
35 moet hy aan wie die huis behoort, kom en aan die priester te kenne gee en sê:
Dit lyk my of daar ‘n plaag in die huis is.
36 En die priester moet bevel gee dat hulle die huis ontruim, voordat die
priester die plaag kom bekyk, sodat alles wat in die huis is, nie onrein word
nie; en daarna moet die priester kom om die huis te bekyk.
37 As hy die plaag bekyk en sien dat die plaag aan die mure van die huis is soos
liggroen of rooierige kuiltjies, en hulle dieper lyk as die muur,
38 dan moet die priester uit die huis uitgaan na die deur van die huis en die
huis sewe dae lank toesluit.
39 Op die sewende dag moet die priester dan terugkom; sien hy dan dat die plaag
hom uitgebrei het aan die mure van die huis,
40 dan moet die priester bevel gee dat hulle die klippe uitbreek waaraan die
plaag is, en dit buitekant die stad op ‘n onrein plek gooi.
41 En die huis moet hulle binnekant rondom afkrap en die klei wat hulle afgekrap
het, buitekant die stad op ‘n onrein plek weggooi.
42 Dan moet hulle ander klippe neem en in die plek van daardie klippe insit, en
hulle moet ander klei neem en die huis pleister.
43 Maar as die plaag weer in die huis uitbreek nadat hulle die klippe uitgebreek
en die huis afgekrap het en dit gepleister is,
44 moet die priester kom; en as hy sien dat die plaag in die huis versprei het,
dan is dit ‘n kwaadaardige melaatsheid in die huis; dit is onrein.
45 Daarom moet hulle die huis afbreek: sy klippe en sy hout en al die klei van
die huis, en hulle moet dit buitekant die stad op ‘n onrein plek uitbring.
46 En hy wat in die huis kom, al die tyd dat hulle dit toegesluit hou, sal tot
die aand toe onrein wees.
47 En hy wat in die huis slaap, moet sy klere was; en hy wat in die huis eet,
moet sy klere was.
48 Maar as die priester kom en sien dat die plaag nie in die huis versprei het
nadat die huis gepleister is nie, dan moet die priester die huis rein verklaar,
want die aangetaste plek het gesond geword.
49 Dan moet hy om die huis te ontsondig twee voëls neem en sederhout en
skarlakendraad en hisop,
50 en die een voël in ‘n erdepot oor vars water slag.
51 Dan moet hy die sederhout en die hisop en die skarlakendraad en die lewendige
voël neem en dit in die bloed van die geslagte voël en in die vars water insteek;
en hy moet die huis sewe maal besprinkel.
52 So moet hy dan die huis ontsondig met die bloed van die voël sowel as met die
vars water en die lewendige voël en die sederhout en die hisop en die
skarlakendraad.
53 Daarop moet hy die lewendige voël buitekant die stad oor die oop veld laat
wegvlieg. So moet hy dan vir die huis versoening doen, en dit sal rein wees.
54 Dit is die wet oor elke plaag van melaatsheid en oor skurfte
55 en oor melaatsheid van klere en huise
56 en oor swelsels en uitslag en ligte vlekke,
57 om te onderrig wanneer iets onrein en wanneer iets rein is. Dit is die wet
oor die melaatsheid.
*~ Levitikus Hoofstuk 15 ~*
1 Verder het YAHUVEH met Moses en Aäron gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As enige man ‘n vloeiing
uit sy vlees het, dan is dié vog onrein.
3 En dit sal sy onreinheid deur die vloeiing wees: As sy vlees die vog laat loop
of sy vlees verstop raak van die vog dit is ‘n onreinheid in hom.
4 Elke bed waar hy op lê wat die vloeiing het, sal onrein wees; en alles waar hy
op sit, sal onrein wees.
5 En elkeen wat aan sy bed raak, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot
die aand toe onrein;
6 en die een wat gaan sit op die voorwerp waarop hy gesit het wat die vloeiing
het, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein;
7 en die een wat aan die liggaam raak van hom wat die vloeiing het, moet sy
klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein.
8 En as hy wat die vloeiing het, op ‘n reine spuug, moet dié een sy klere was en
‘n bad neem, en hy bly tot die aand toe onrein.
9 En elke saal waar hy op ry wat die vloeiing het, sal onrein wees.
10 En elkeen wat aan iets raak wat onder hóm is, sal onrein wees tot die aand
toe. En die een wat dit dra, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die
aand toe onrein.
11 En elkeen aan wie hy raak wat die vloeiing het, sonder dat hy eers sy hande
in die water afgespoel het, dié een moet sy klere was en ‘n bad neem, en hy bly
tot die aand toe onrein.
12 Ook die erdegoed waar hy aan raak wat die vloeiing het, moet stukkend gebreek
word; maar al die voorwerpe van hout moet in die water afgespoel word.
13 En as hy wat die vloeiing het, van sy vloeiing rein word, moet hy sewe dae
tel ná sy reiniging en sy klere was en sy liggaam in vars water bad; dan sal hy
rein wees.
14 En op die agtste dag moet hy vir hom twee tortelduiwe of twee jong duiwe neem
en voor die aangesig van YAHUVEH kom, by die ingang van die Tent van Samekoms,
en dié aan die priester gee;
15 en die priester moet hulle berei, die een as sondoffer en die ander as
brandoffer; so moet die priester dan vir hom vanweë sy vloeiing versoening doen
voor die aangesig van YAHUVEH.
16 En as daar van ‘n man ‘n saadvloeiing uitgaan, moet hy sy hele liggaam in die
water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees.
17 Ook elke kledingstuk en elke vel waar die saadvloeiing op kom, moet in die
water gewas word en dit bly tot die aand toe onrein.
18 En wat die vrou aangaan met wie ‘n man vleeslike gemeenskap het altwee moet
‘n bad neem en sal tot die aand toe onrein wees.
19 En as ‘n vrou ‘n vloeiing het, en die vloeiing in haar vlees bloed is, dan
bly sy sewe dae lank in haar onreinheid; en elkeen wat aan haar raak, sal tot
die aand toe onrein wees.
20 En alles waar sy in haar onreinheid op lê, sal onrein wees; en alles waar sy
op sit, sal onrein wees.
21 En elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly
tot die aand toe onrein.
22 En elkeen wat raak aan enige voorwerp waar sy op sit, moet sy klere was en ‘n
bad neem en hy bly tot die aand toe onrein;
23 en as daar iets op die bed is of op die voorwerp waar sy op sit, as hy dit
aanraak, sal hy tot die aand toe onrein wees.
24 En as ‘n man met haar gemeenskap het, sodat haar onreinheid op hom kom, sal
hy sewe dae lank onrein wees; en elke bed waar hy op lê, sal onrein wees.
25 En as ‘n vrou lank ‘n bloedvloeiing het, buiten die tyd van haar onreinheid,
of as sy vloei oor die tyd van haar onreinheid, moet sy gedurende al die dae van
haar onreine vloeiing wees soos in die dae van haar maandelikse onreinheid; sy
is onrein.
26 Elke bed waar sy gedurende al die dae van haar vloeiing op lê, sal vir haar
soos die bed van haar maandelikse onreinheid wees; en alles waar sy op sit, sal
net so onrein wees soos iets wat deur haar maandelikse onreinheid verontreinig
is.
27 En elkeen wat aan hierdie dinge raak, sal onrein wees: dié een moet sy klere
was en ‘n bad neem en bly tot die aand toe onrein.
28 Maar as sy van haar vloeiing rein geword het, moet sy sewe dae tel, en daarna
sal sy rein wees.
29 En op die agtste dag moet sy vir haar twee tortelduiwe of twee jong duiwe
neem en dié by die ingang van die Tent van Samekoms na die priester bring.
30 Dan moet die priester die een as sondoffer en die ander as brandoffer berei;
en die priester moet vanweë haar onreine vloeiing vir haar versoening doen voor
die aangesig van YAHUVEH.
31 So moet julle dan die kinders van Israel van hulle onreinheid afsonder, dat
hulle nie deur hulle onreinheid sterwe nie deurdat hulle MY Tabernakel wat in
hulle midde is, verontreinig.
32 Dit is die wet vir hom wat ‘n vloeiing het en vir hom van wie ‘n saadvloeiing
uitgaan, sodat hy daardeur onrein word;
33 en vir die vrou wat deur haar onreinheid onwel is, en vir die een wat aan ‘n
vloeiing ly, man of vrou, en vir ‘n man wat met ‘n onrein vrou gemeenskap het.