Shabbat Shalom!
Behar - Op Die Berg / Bechukotai - In My Wette
- hierdie week se Torah lees.


Levitikus 25:1-27:34;

25

1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat EK julle gee, moet die land ‘n Sabbat hou vir YAHUVEH.
3 Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;
4 maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ‘n Sabbat vir YAHUVEH; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.
5 Wat van jou oes opslaan, moet jy nie afoes nie, en die druiwe van jou ongesnoeide wingerdstok nie afsny nie. Dit moet ‘n jaar van rus vir die land wees.
6 En die opbrings van die Sabbat van die land sal julle voedsel wees; vir jou en jou slaaf en jou slavin en jou dagloner en jou bywoner wat by jou vertoef,
7 en vir jou vee en die wild wat in jou land is, sal die hele opbrings daarvan wees om te eet.
8 Jy moet ook sewe jaarweke tel, sewe maal sewe jaar, sodat die dae van die sewe jaarweke vir jou nege en veertig jaar is.
9 Dan moet jy in die sewende maand, op die tiende van die maand (Yom-Kippur), ‘n basuingeklank laat deurgaan; op die versoendag moet julle die basuin deur julle hele land laat gaan.
10 En julle moet die vyftigste jaar heilig en ‘n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ‘n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.
11 ‘n Jubeljaar moet dit, die vyftigste jaar, vir julle wees. Julle mag nie saai nie, ook nie afoes wat dan opslaan of die druiwe van die onbesnoeide wingerdstok dan afsny nie.
12 Want dit is ‘n jubeljaar, dit moet vir julle heilig wees: van die land af moet julle die opbrings daarvan eet.
13 In hierdie jubeljaar moet julle elkeen na sy besitting teruggaan.
14 Daarom, as jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste koop, moet julle mekaar nie verdruk nie;
15 volgens die getal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar ‘n oes is, moet hy dit aan jou verkoop;
16 volgens die groter aantal jare moet jy die koopprys daarvan vermeerder, en volgens die kleiner aantal jare moet jy die koopprys daarvan verminder, want hy verkoop aan jou die aantal oeste.
17 Laat niemand dan sy naaste verdruk nie, en vrees jy jou ELOHIM; want EK is YAHUVEH julle ELOHIM.
18 En doen MY insettinge en onderhou MY verordeninge en doen dit, dat julle veilig kan woon in die land.
19 En die land sal sy vrug gee, en julle sal volop eet en veilig daarin woon.
20 En as julle sê: Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai nie en ons oes nie mag insamel nie?
21 dan gebied EK MY seën vir julle in die sesde jaar, en dit sal die oes vir die drie jare oplewer.
22 En in die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrings eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrings hiervan inkom, moet julle die oue eet.
23 Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is MYNE, omdat julle vreemdelinge en bywoners by MY is.
24 Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat.
25 As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het.
26 En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing,
27 moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan.
28 Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan.
29 En as iemand ‘n woonhuis in ‘n ommuurde stad verkoop, moet daar reg van lossing wees tot die end van die jaar dat dit verkoop is; ‘n jaar lank moet daar reg van lossing wees.
30 Maar as dit nie gelos word voordat ‘n hele jaar verby is nie, moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir altyd die eiendom van sy koper bly vir sy geslagte; in die jubeljaar sal dit nie vry word nie.
31 Maar die huise van die dorpe wat rondom geen muur het nie, moet by die veld van die land gereken word; daar moet reg van lossing voor wees en in die jubeljaar moet dit vry word.
32 Wat die stede van die Leviete aangaan, die huise in die stede wat in hulle besit is vir die Leviete moet daar ‘n ewige reg van lossing wees.
33 En as iemand van die Leviete dit sal los, moet die huis wat verkoop is, naamlik in die stad van sy besitting, in die jubeljaar vry word; want die huise in die stede van die Leviete is hulle besitting onder die kinders van Israel.
34 En die weiveld om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is ‘n ewige besitting vir hulle.
35 En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos ‘n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe.
36 Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou ELOHIM vrees, dat jou broer by jou kan lewe.
37 Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie, en jou eetware mag jy nie teen wins gee nie.
38 EK is YAHUVEH julle ELOHIM wat julle uit Egipteland uitgelei het om julle die land Kanaän te gee, om julle ELOHIM te wees.
39 En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie.
40 Soos ‘n dagloner, soos ‘n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien;
41 dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan.
42 Want hulle is MY knegte wat EK uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos ‘n mens ‘n slaaf verkoop nie.
43 Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou ELOHIM vrees.
44 Wat jou slaaf of jou slavin aangaan wat aan jou sal behoort van die nasies wat rondom julle is, van hulle mag julle ‘n slaaf of slavin koop.
45 En ook van die kinders van die bywoners wat by julle vertoef van hulle mag julle koop en van hulle geslag wat by julle is, wat hulle in julle land verwek het; en dié sal vir julle ‘n besitting wees.
46 En julle mag dié aan julle kinders ná julle nalaat as ‘n erflike besitting; vir ewig mag julle hulle laat dien. Maar oor julle broers, die kinders van Israel, die een oor die ander oor hom mag jy nie met hardheid heers nie.
47 En as ‘n vreemdeling of bywoner by jou vermoënd word, en jou broer by hom verarm en hy homself aan ‘n vreemdeling of bywoner by jou verkoop, of aan ‘n familielid uit die geslag van ‘n vreemdeling,
48 dan moet daar vir hom, nadat hy hom verkoop het, reg van lossing wees; een van sy broers kan hom los,
49 of sy oom of sy oom se seun kan hom los, of een van sy naaste bloedverwante uit sy geslag kan hom los, of as hy dit kan bekostig, kan hy homself los.
50 En hy moet met sy koper reken van die jaar af dat hy hom aan hom verkoop het, tot die jubeljaar toe. En die prys waarvoor hy hom verkoop het, moet wees volgens die aantal jare; soos ‘n dagloner sal hy dan dié tyd by hom gewees het.
51 As daar nog baie jare is, moet hy volgens hulle sy losprys uit die geld waarvoor hy gekoop is, teruggee;
52 en as daar maar min jare tot die jubeljaar toe oor is, moet hy daarmee rekening hou; volgens dié jare moet hy sy losprys teruggee.
53 Soos een wat van jaar tot jaar loonarbeider is, moet hy by hom wees; hy mag nie met hardheid oor hom voor jou oë heers nie.
54 En as hy nie op dié wyse gelos word nie, moet hy in die jubeljaar vrygelaat word, hy en sy kinders saam met hom.
55 Want die kinders van Israel is MY knegte; MY knegte is hulle wat EK uit Egipteland uitgelei het. EK is YAHUVEH julle ELOHIM.

*~ Levitikus Hoofstuk 26 ~*


1 Julle mag vir julle geen afgode maak nie; en ‘n gesnede beeld of ‘n klippilaar mag julle vir julle nie oprig nie en ‘n steen met beeldhouwerk in julle land nie opstel om julle daarby neer te buig nie; want EK is YAHUVEH julle ELOHIM.
2 MY Sabbatte moet julle hou en MY Heiligdom ontsien. EK is YAHUVEH.
3 As julle in MY insettinge wandel en MY gebooie hou en dit doen,
4 sal EK julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.
5 En die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiwe oes, en die druiwe oes sal aanhou tot die saaityd, en julle sal jul brood volop eet en veilig in julle land woon.
6 Ook sal EK vrede gee in die land, sodat julle sal lê en rus sonder dat iemand julle skrikmaak; en EK sal die wilde diere uit die land laat verdwyn, en geen swaard sal deur julle land trek nie.
7 En julle sal jul vyande agtervolg, en hulle sal voor julle val deur die swaard.
8 Vyf van julle sal honderd agtervolg, en honderd van julle sal tien duisend agtervolg; en julle vyande sal voor julle val deur die swaard.
9 En EK sal MY na julle wend en julle vrugbaar maak en julle vermenigvuldig; en MY verbond sal EK met julle bevestig.
10 Julle sal ou koring van vorige jare eet en die oue laat plek maak vir die nuwe.
11 En Ek sal MY Tabernakel onder julle oprig, en MY siel sal van julle geen afsku hê nie.
12 En EK sal in jul midde wandel en vir julle ‘n ELOHIM wees, en júlle sal vir MY ‘n volk wees.
13 EK is YAHUVEH julle ELOHIM wat julle uit Egipteland uitgelei het, dat julle nie hulle slawe moet wees nie; en EK het julle jukskeie verbreek en het julle regop laat loop.
14 Maar as julle nie na MY luister en al hierdie gebooie nie doen nie;
15 en as julle MY insettinge verwerp, en as julle siel van MY verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al MY gebooie doen nie en MY verbond verbreek
16 dan sal ÉK dit ook aan julle doen: EK sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.
17 En EK sal MY aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie.
18 En as julle dan nog nie na MY luister nie, sal EK voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig.
19 En EK sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper.
20 En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie.
21 En as julle jul teen MY versit en na MY nie wil luister nie, sal EK meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes.
22 En EK sal die wilde diere van die veld onder julle in stuur, en dié sal julle kinderloos maak en julle vee uitroei en julle verminder, sodat julle paaie verlate sal wees.
23 En as julle hierdeur jul nie deur MY laat tugtig nie, maar julle teen MY versit,
24 sal EK MY ook teen julle versit en julle ook sewevoudig tref weens julle sondes.
25 En EK sal ‘n swaard oor julle bring wat die wraak van die verbond sal uitoefen; en as julle dan in jul stede terugtrek, sal EK pes onder julle in stuur, en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word.
26 As EK vir julle die staf van die brood verbreek, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee; en julle sal eet, maar nie versadig word nie.
27 As julle ook hierom nie na MY luister nie, maar julle teen MY versit,
28 sal EK MY in grimmigheid teen julle versit, en EK sal julle ook sewevoudig tugtig weens julle sondes.
29 En julle sal die vlees van julle seuns eet, en die vlees van julle dogters sal julle eet.
30 En EK sal julle hoogtes verwoes en julle sonpilare verdelg en julle lyke op die lyke van julle drekgode gooi; en my siel sal ‘n afsku van julle hê.
31 En EK sal julle stede puinhope maak en julle heiligdomme verwoes en julle lieflike geur nie ruik nie.
32 Ja, EK self sal die land verwoes, sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan.
33 En EK sal julle onder die volke verstrooi en ‘n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ‘n wildernis en julle stede puinhope word.
34 Dan sal die land vir sy Sabbatte vergoeding kry, al die dae van sy verwoesting, terwyl julle in die land van julle vyande is; dan sal die land rus en vir sy Sabbatte vergoeding gee.
35 Al die dae van sy verwoesting sal dit rus die rus wat dit nie gehad het in julle Sabbatte toe julle daarin gewoon het nie.
36 En wat aangaan diegene wat onder julle oorgebly het EK sal in hulle hart ‘n vreesagtigheid bring in die lande van hulle vyande, sodat die geruis van ‘n verwaaide blaar hulle op die loop sal ja; en hulle sal vlug, soos ‘n mens vir ‘n swaard vlug en val sonder dat iemand agtervolg.
37 En hulle sal struikel die een oor die ander soos vir die swaard, alhoewel niemand agtervolg nie; en julle sal voor julle vyande nie kan standhou nie.
38 Maar julle sal omkom onder die nasies, en die land van julle vyande sal julle verteer.
39 En die wat onder julle oorgebly het, sal oor hulle ongeregtigheid wegteer in die lande van julle vyande, ja, ook oor die ongeregtighede van hulle vaders saam met hulle wegteer.
40 Dan sal hulle hul ongeregtigheid bely en die ongeregtigheid van hulle vaders deurdat hulle ontrou teen MY gehandel het; en ook dat hulle hul teen MY versit het,
41 sodat ÉK MY ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande moes bring; of, as hulle onbesnede hart hom dan verneder en hulle dan boet vir hul ongeregtigheid,
42 sal EK dink aan MY verbond met Jakob; en ook aan MY verbond met Isak en ook aan MY verbond met Abraham sal EK dink, en aan die land sal EK dink.
43 Maar die land moet eers van hulle verlate wees en moet vir sy Sabbatte vergoeding kry, terwyl dit woes lê sonder hulle; en húlle sal vir hul ongeregtigheid boet, omdat, ja, omdat hulle MY verordeninge verwerp en hulle siel van MY insettinge ‘n afsku gehad het.
44 Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp EK hulle nie en het EK van hulle geen afsku, sodat EK ‘n einde aan hulle sou maak en MY verbond met hulle sou verbreek nie; want EK is YAHUVEH hulle ELOHIM.
45 Maar EK sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat EK uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n ELOHIM te wees. EK is YAHUVEH.
46 Dit is die insettinge en die verordeninge en die wette wat YAHUVEH tussen HOM en die kinders van Israel by die berg Sinai deur die diens van Moses gegee het.

*~ Levitikus Hoofstuk 27 ~*


1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand ‘n besondere gelofte aflê mense aan YAHUVEH toewy volgens jou skatting,
3 dan moet jou skatting vir ‘n manspersoon van twintig tot sestig jaar, dan moet jou skatting vyftig sikkels silwer wees, volgens die sikkel van die Heiligdom.
4 Maar is dit ‘n vrou, dan moet jou skatting dertig sikkels wees.
5 En is dit iemand van vyf tot twintig jaar, dan moet jou skatting vir ‘n manspersoon twintig sikkels wees en vir ‘n vroulike tien sikkels.
6 Maar is dit iemand van ‘n maand oud tot vyf jaar, dan moet jou skatting vir die manlike geslag vyf sikkels silwer wees en jou skatting vir die vroulike drie sikkels silwer.
7 En is dit iemand van sestig jaar oud en daarbo is dit ‘n manspersoon, dan moet jou skatting vyftien sikkels wees en vir ‘n vrou tien sikkels.
8 Maar as hy te arm is vir die geskatte bedrag, moet hy voor die priester gestel word, sodat die priester hom kan skat; volgens wat hy kan bekostig wat die gelofte gedoen het, moet die priester hom skat.
9 En as dit vee is waarvan hulle aan YAHUVEH ‘n offer kan bring, moet alles wat hy daarvan aan YAHUVEH gee, heilig wees.
10 Hy mag dit nie omwissel of omruil nie ‘n goeie vir ‘n slegte of ‘n slegte vir ‘n goeie nie; maar as hy tog ‘n dier vir ‘n ander een omruil, moet dit en die geruilde heilig wees.
11 En as dit enige onrein stuk vee is waarvan hulle aan YAHUVEH geen offer mag bring nie, moet hy die dier voor die priester stel,
12 en die priester moet dit skat of dit goed of sleg is; na jou skatting, priester, so sal dit wees.
13 Maar as hy dit wil los, moet hy die vyfde deel daarvan bo jou skatting byvoeg.
14 En as iemand sy huis as heilige gawe aan YAHUVEH toewy, moet die priester dit skat of dit goed of sleg is; soos die priester dit skat, so moet dit bly.
15 En as hy wat dit geheilig het, sy huis wil los, moet hy die vyfde deel van die geld van jou skatting daar byvoeg; dan sal dit syne wees.
16 En as iemand ‘n stuk land van sy besitting aan YAHUVEH heilig, moet jou skatting wees volgens die saad wat gesaai word: ‘n homer garssaad op vyftig sikkels silwer.
17 As hy sy stuk land van die jubeljaar af heilig volgens jou skatting, so moet dit bly.
18 Maar as hy sy stuk land ná die jubeljaar heilig, moet die priester vir hom die geld bereken na die jare wat tot die volgende jubeljaar oor is; en dit moet van jou skatting afgetrek word.
19 En as hy wat die stuk land geheilig het, dit beslis wil los, moet hy die vyfde deel van die geld van jou skatting daar byvoeg; en dit sal syne bly.
20 En as hy die stuk land nie los nie, of as hy die stuk land aan ‘n ander verkoop, mag dit nie meer gelos word nie;
21 maar die stuk land moet, as dit in die jubeljaar vry word, aan YAHUVEH heilig wees soos ‘n stuk land onder die ban; die besit daarvan kom aan die priester toe.
22 En as hy aan YAHUVEH ‘n stuk land heilig wat hy gekoop het, wat nie van die land van sy besitting is nie,
23 moet die priester vir hom die bedrag van die skatting tot die jubeljaar bereken; en hy moet op dieselfde dag die skatting gee as ‘n heilige gawe aan YAHUVEH.
24 In die jubeljaar moet die stuk land terugkom aan hom van wie hy dit gekoop het, aan hom wat in besit was van die stuk land.
25 En alles wat jy skat, moet volgens die sikkel van die Heiligdom wees; die sikkel moet twintig gera wees.
26 Maar die eersgeborene van ‘n dier wat as eersgeborene aan YAHUVEH behoort, dit mag niemand heilig nie; of dit ‘n bees is of ‘n stuk kleinvee dit behoort aan YAHUVEH.
27 Maar is dit van ‘n onrein dier, dan moet hy dit na jou skatting loskoop en die vyfde deel daarvan byvoeg; en as dit nie gelos word nie, moet dit na jou skatting verkoop word.
28 Maar niks van die bangoed wat iemand aan YAHUVEH wy, van alles wat aan hom behoort mense of vee of grond wat in sy besit is mag verkoop of gelos word nie. Al die bangoed moet aan YAHUVEH hoogheilig wees.
29 Elkeen wat onder die ban is, wat onder die mense met die ban getref is, mag nie losgekoop word nie; hy moet sekerlik gedood word.
30 Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan YAHUVEH; dit is heilig aan YAHUVEH.
31 Maar as iemand van sy tiende iets wil los, moet hy die vyfde deel daarvan byvoeg.
32 Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee alles wat onder die herderstaf deurgaan die tiende moet aan YAHUVEH heilig wees.
33 Hulle mag nie ondersoek of dit goed of sleg is nie, en dit nie omruil nie; maar as hulle dit tog omruil, moet dit en die geruilde heilig wees; dit mag nie gelos word nie.
34 Dit is die gebooie wat YAHUVEH Moses by die berg Sinai vir die kinders van Israel beveel het.